Is God regtig almagtig?

Ons glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde …
Apostoliese Geloofsbelydenis, art. 1

Is God régtig almagtig? Hoekom gebeur daar dan soveel dinge wat ons die idee gee dat die duiwel kan maak soos hy wil? Kindersterftes, oorloë, hongersnood, armoede, die mees geweldadige plaasmoorde, bendegeweld …

Dié vraag is nie nuut nie. Die boek Job is juis ’n besinning oor God se almag. Ek dink die boek kan ons ’n entjie help, want Job se “vriende” dink dat hulle God se besigwees in die wêreld netjies uitgepluis het, en daarom eenvoudige antwoorde gee op menslike lyding. Al die slegte dinge wat jou oorkom, is die gevolg van jou sonde, sê hulle. Job moet net sy sonde bely, dan sal alles regkom. Hulle antwoord is natuurlik deels reg. Jesus sê immers in Joh 9:31: “Ons weet dat God nie na sondaars luister nie; maar as iemand vir Hom ontsag het en doen wat Hy wil hê, luister God na hom.”

Hulle antwoord was egter net gedeeltelik reg, want hulle het nie rekening gehou met Satan nie (Job 1:7 e.v.). Hy het ’n beduidende aandeel aan baie van die ellende in die wêreld. En ons moet ook besef dat baie wat verkeerd is, soos oorloë, aardverwarming, besoedeling, misdaad ens, die mens se eie skuld is, en nie God s’n nie. Dit sien ons al in God se gesprek met Kain (Gen 4:6,7).

Alles wat gebeur, kan ook nie verklaar word met ’n eenvoudige oorsaak-gevolg skema nie. Die lewe is eenvoudig baie meer genuanseerd as dit, en daarom kan ons nie ’n vinger na God wys as dinge skeef loop op aarde nie.

Teoloë het al baie hieroor geskryf. Adrio König het bv in sy boek “God, waarom lyk die wêreld so?” gesê God is wel almagtig, maar nog nie in beheer nie. Eendag sal Hy Satan vernietig, maar nou is die geveg om beheer nog aan die gang en gebeur dinge wat God nie kan keer nie. König se antwoord klink logies, maar ek voel ongemaklik met sy redenasie, want dit beteken dat ons tans nie kan rus in God se almag nie. Hy wyk baie ver af van die tradisionele beskouing oor God en sy almag soos ons dit in die belydenisskrifte vind, en ek dink nie sy standpunt help ’n mens regtig nie. Hoe troos jy iemand in die hospitaal voor ’n operasie as jy nie vir haar kan sê God is in beheer nie? Waarvoor bid ’n mens dan? Wat vra jy van ’n God wat nie almagtig is nie? Goed, daar gebeur baie dinge wat ons nie verstaan nie, en graag (met ons uiters beperkte insig) anders sou wou hê in hierdie wêreld, maar dit is (gelukkig) nie vir ons om die wêreld te bestuur nie. Dit kan ons met groot vreugde in God se hande laat. Hy weet immers wat Hy doen; ons nie.

Ons probleem is dat ons ook soms soos Adrio König redeneer. Daarom bid ons vir uitkoms sonder om regtig te verwag dat God iets sal of kan doen. Ek bid vir my kind se huwelik, maar ek weet dit sal nie regkom nie. Ek bid vir die slegte verhouding met ’n buurman, of vir my finansies, maar my kop sê vir my daar is min hoop dat iets kan verander.

Is God régtig almagtig? Natuurlik is Hy! Maar ons moet ook verstaan dat ons insig in God en sy werk uiters beperk is. Paulus sê dit in soveel woorde in 1 Kor 13:12: “Nou kyk ons nog in 'n dowwe spieël en sien 'n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken.” En Prediker 5:1 (ARF20) se woorde bly my ook by: “Moenie gou wees met jou mond en laat jou hart nie haastig wees om 'n woord voor God te uiter nie. Want God is in die hemel en jy is op die aarde; daarom moet jou woorde min wees.”

Ons het hier met die misterie van God te make. Dis nie vir ons om dit te deurgrond nie. Ons kan rus in die wete dat ons in Christus en die Vader se hande veilig is (Joh 10:28 en 29).

image_pdfimage_print

Views: 60

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.