Wat die Here sy dienaar Moses beveel het, het Moses vir Josua beveel, en dit het Josua gedoen. Niks wat die Here vir Moses beveel het, is nagelaat nie. (vers 15)
Die vertelling van die verowering van die noordelike gebiede van die Beloofde Land onderstreep met dik hale die Here se inisiatief. Hy is steeds die eintlike Een wat die verowering lei, sodat Hy die land “wat oorloop van melk en heuning” aan sy volk kan gee (vgl Deut. 27:3). Daarom begin Josua se veldtog teen die noordelike koalisie met ’n woord van die Here aan hom (vers 6): “Moenie vir hulle bang wees nie. Môre dié tyd gee Ek hulle oor aan Israel, dan sneuwel hulle almal.”
Ons sal egter die punt mis as ons net fokus op God se optrede. ’n Tweede tema wat deur die hoofstuk loop, is dat Josua nougeset gehoorsaam was aan die Here se opdrag. Dit staan in vers 15 en weer in vers 20.
Ons hou daarvan om te fokus op God se beloftes, en natuurlik mag ons. Maar die anderkant van die munt moet ons ook sien: dat God se beloftes waar word deur ons gehoorsaamheid aan sy Woord.