Daar het die siener Jehu seun van Ganani hom voorgestaan en vir koning Josafat gesê: “Wou u ’n goddelose help en aan ’n hater van die Here liefde betoon? Met hierdie optrede van u het u die toorn van die Here op u laat kom. (2 Kron 19:2)
Ons lees ’n paar keer in die Bybel dat ’n verteenwoordiger van God die koning moes aanspreek. Samuel het koning Saul aangespreek omdat hy nie die Amalekiete met die banvloek getref het, soos sy opdrag was nie. Saul se reaksie was om sy optrede te verdedig (1 Sam 15:20-21). Toe Natan Dawid aangespreek het oor sy sonde met Batseba, het Dawid sy skuld bely (2 Sam 12:13), maar koning Asa was woedend toe hý aangespreek is en het die siener Ganani in die tronk gegooi (2 Kron 16:10).
Josafat het nie soos sy pa gereageer toe die siener Jehu hom aangespreek het nie. Hy het gaan regmaak wat hy verbrou het deur te sorg dat die volk die Here gehoorsaam, en die regstelsel reggeruk deur toe te sien dat die regters onkreukbaar was (vers 4-11).
Ons trap almal die een of ander tyd skeef. Dis deel van menswees. Die vraag is: hoe reageer jy as jy daaroor aangepraat word?