Kom ondervind en sien self dat die Here goed is! Dit gaan goed met die mens wat by Hom skuil. (vers 9)
In dié lied vertel die digter hoe die Here hom uit sy ellende gered het en hoe Hy sorg vir dié wat Hom dien, sodat hulle straal van blydskap. Hy is so opgewonde daaroor dat hy die gemeente nooi om saam met hom te jubel (vers 4).
Vir dié wat dalk wonder waaroor hy praat, nooi die digter in vers 9 uit: “Kom ondervind en sien self dat die Here goed is!” Want hoor-sê is nie goed genoeg nie. Jy moet dit sélf beleef. Jy moet self met jou nood na God toe vlug en Hom vertrou.
In die tweede deel van die psalm (vers 16-23) gee hy ’n hele rits versekerings oor hoe die Here sorg vir hulle wat Hom nodig het. Dalk moet jy dit weer ’n keer lees. Hy verseker ons dat God se sintuie ingestel is op die regverdiges. Letterlik staan daar in vers 16: “Die oë van die Here is gerig op die regverdiges, sy ore op hulle hulpgeroep.”
Vers 19 vat dit goed saam: “Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses.”