Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg. (vers 5)
Wie het gesê die lewe is regverdig? Want dit is nie. Dit gaan nie noodwendig goed met die gelowiges en sleg met die ongelowiges nie. Ons weet dit almal, en tog, iewers diep in ons harte, is ons daaroor ongelukkig. Ons dink God kon darem die sake anders gereël het. Ons is tog sy kinders. Tel dit vir niks?
In hierdie besinning wil die digter ons help om die groter prentjie te sien. God Ãs by sy kinders en sien na hulle om. Hy sal sy kinders nooit vergeet nie. En al is dit so dat dit met party goddelose mense goed gaan, is hulle uiteinde een groot ellende: ’n lewe weg van God. Iewers – ons weet nie wanneer nie – sal God die bordjies verhang.
Jesus het vir ons kom wys dat ’n lewe naby God ’n vrugbare lewe is, al is dit nie blink en ongekompliseerd nie. God belowe ons nie alles waarop ons ons hart kan sit nie; Hy belowe ons sy nabyheid en sorg. Dit het Hy vir Jesus gedoen, en Hy doen dit steeds vir ons, sy kinders.