… nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop. (vers 18-19)
Die boek eindig nie soos dit begin het nie; dit eindig in ’n magtige klimaks van Godsvertroue.
In hoofstuk 1 het Habakuk begin deur ’n beskuldigende vinger na God te wys. In hoofstuk 3 is hy weer aan die woord, maar hierdie keer bid hy. In sy worsteling met God het hy van wanhoop tot vertroue beweeg. God sál ingryp, soos so dikwels in die verlede. Daarvoor bid hy (vers 2).
Gedagtig aan die Here se optrede in die verlede kom hy by die punt waar hy besef hy moet geduldig wag totdat God ingryp. God se heerskappy is dikwels net vir die geloofsoog sigbaar.
Met God langs jou hoef jy jou nie blind te staar teen die steiltes nie. Een kommentator noem dit “nogtans-geloof”. God het reeds die oorwinning behaal. Hy is jou Kragbron. Op hoë plekke laat Hy jou veilig loop.
Views: 84