En hy het sonder versuim na sy pa toe teruggegaan. Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom. (vers 20)
Hierdie beeld van ’n pa wat op sy verlore kind afstorm en hom omhels, is vir my een van die mooiste metafore in die Bybel oor ons hemelse Vader en hoe Hy oor ons voel. Daar is vreugde en fees in die hemel oor elke kind van God – ook oor jou. Of kom ek stel dit duideliker: God is bly oor jou. Hy het vreugde aan jou omdat jy by Hom is en Hom dien.
Dis ’n belangrike perspektief wat ons nodig het, veral in ’n tyd van ontwrigting en swaarkry: ons hemelse Vader kyk verlangend uit na jou. Dit lees ons ook in Sef 3:17: _Die Here jou God is in jou midde, ’n held wat verlos. Hy verheug Hom met blydskap oor jou, Hy maak jou stil met sy liefde. Hy sal oor jou juig met jubelkrete._ (2020-vertaling)
Ons dien ’n Here wat jaloers na sy kinders omsien. Daarom het Hy sy Seun gestuur om te soek en te red wat verlore is (Luk 19:10). Aard jy na Hom?
Views: 14