Nee! Ons, en ook hierdie gelowiges, glo dat ons net deur die genade van die Here Jesus gered word. (vers 11)

Ek dink nie ons kan régtig verstaan hoe ’n groot besluit in Handelinge 15 geneem is nie, en nog minder hoe moeilik dit vir die Joodse gelowiges moes gewees het om af te sien van hulle aandrang dat gelowiges uit die heidene eers besny moes word (en dus Jode word, met alles wat dit inhou) voordat hulle gered kon word. Die Joodse wette en reinigingsgebruike is immers vir hulle met moedersmelk ingegee, en nou sê Paulus en Barnabas dit is nie nodig as jy die Here wil volg nie.

Om hierdie besluit te kon neem, het niks minder nie as ’n radikale nuwe verstaan van wat geloof is, vereis. Christus alleen. Net die genade van die Here Jesus. Nie jou Joodsheid, jou herkoms, jou wetsonderhouding nie, net Christus.

Paulus beskryf later sy geloof só: “Al wat ek wens, is om Christus te ken …” (Fil. 3:10)

Ons is vandag nog in die versoeking om ander sake só te verhef dat dit die fokus op die Here Jesus verduister. Van die vroegste tye af moes die kerk haar teen hierdie dwaling verweer, en dit is nou nog so. Jesus alleen!

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.