Die gelowiges daar het van ons gehoor, en party van hulle het ons by die Appiusmark kom ontmoet en party by die Drie Herberge. Toe Paulus hulle sien, het hy God gedank en moed geskep. (vers 15)
Hierdie vers tref my elke keer weer. Dit onderstreep twee baie belangrike feite in die koninkryk:
1. Daar is nie ’n mens wat nie ondersteuning nodig het nie, hoe sterk sy geloof ook al is. Selfs Paulus, vir wie ons in die vorige hoofstuk leer ken as die geloofsheld wat almal moed gee, en ondersteuning nodig gehad. Hier is hy op pad na Rome vir sy saak voor die hoogste hof. Hy het talle ontberinge deurgemaak op pad hierheen. Sy gemoed was waarskynlik in ’n warboel, maar toe die gelowiges hom ontmoet, dank hy God en skep moed.
2. Jy hoef nie ’n geloofsreus soos Paulus te wees om ’n verskil in die koninkryk te maak nie. Die gewone gelowiges wat hom tegemoetgaan, het ’n reusebydrae gelewer om sy verblyf in Rome op ’n hoë noot te laat begin. Jou teenwoordigheid, jou belangstelling, jou daarwees, kan vir iemand anders die wêreld se verskil maak.
God het jou nodig in sy koninkryk! Wees beskikbaar dat Hy jou kan gebruik.
Naskrif: Ons begin môre die boek Genesis lees.