So het die stuk grond met die grot daarop uit die hande van die Hetiete oorgegaan na Abraham as begraafplek wat aan hom behoort. (vers 20)
Sara se dood beklemtoon die feit dat Abraham ná al die jare steeds ’n bywoner in Kanaän was (vers 4), al het God die land aan hom beloof. Hy besit nie eers ’n lappie grond waar hy sy vrou te ruste kan lê nie.
Hy sou sy vrou natuurlik in Haran kon gaan begrawe, waar hulle familie gewoon het en hulle pa begrawe is, maar daarmee sou hy teruggaan op sy spoor. Kanaän was nou sy woonplek, en deur vir Sara in Kanaän te begrawe, bevestig hy dit.
In groot besonderhede word die koop van die Makpelagrot oorvertel, want dit is ’n baie belangrike moment in Abraham se lewe: vir die eerste keer word hy ’n grondbesitter in die land wat aan hom beloof is. Dié grot, waarin hy Sara te ruste lê, en waarin hy en sy nageslag ook begrawe is, is simbolies van die waar word van God se beloftes, ’n deposito van wat later nog sou kom.
Geloof is om God se beloftes te omhels en daarvolgens op te tree.
Views: 7