Die priesterhoofde antwoord: “Ons het nie ’n koning nie; ons het net die keiser.” (vers 15c)
Ons het nie ’n koning nie; ons het net die keiser. Want ons wil nie hoor wat hierdie Man vir ons van God se aanspraak op ons lewens kom leer nie. Dit is die verskriklike van Jesus se lyding: dat sy eie mense, hulle ter wille van wie Hy sy hemelse heerlikheid prysgegee het om mens te word, Hom as Koning verwerp.
Maar daarmee is Hy nie uit die weg geruim nie. Want sy kruis het ook sy triomf geword. Sy dood het sy troonsbestyging geword. Daarom staan daar bo-aan sy kruis vasgespyker: “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode” (vers 19). Want ook vir hulle wat Hom nie liefhet nie en sy aanspraak op hulle lewens verwerp – ook vir hulle is Jesus Koning.
Ook vir ons wat so graag ons eie gang wil gaan, wat so maklik die aansprake van Christus op ons lewens en ons harte en ons liefde en tyd en kragte en beursies minag, ons wat dikwels lewe asof ons geen Koning het nie behalwe onsself – ook vir ons het Hy daar aan die kruis gehang om die sonde en die bose in ons lewens te oorwin, sodat Hy werklik Koning kan wees.