Toe vra die man: “Wat is jou naam?” en hy antwoord: “Jakob.” (vers 27)
Jakob was nie ’n slegte ou nie. Hy was maar net lief daarvoor om te wen, en dit het ongelukkig sy gesonde oordeel aangetas. Dis dié dat hy dit oor sy hart kon kry om sy eie broer uit sy eersgeboortereg te kul, en sy pa te bedrieg. Later het hy van sy eie medisyne gekry toe sy skoonpa Laban hom lelik ingeloop het.
Dis ’n strik waarin ’n mens vandag nog kan trap. “Wen tot elke prys” het ongelukkig deel van die moderne samelewing geword. Dat jy ander in die proses benadeel, is nou maar een van daardie dinge.
Op ’n manier moet ons van hierdie wen-tot-elke-prys-mentaliteit ontslae raak, anders sal dit ons én ons slagoffers vernietig. Die goeie nuus is: dit kan. Dis wat met Jakob by die Jabbokdrif gebeur het. God het hom voorgekeer. Hy moes erken hy is Jakob, die skelm.
Na daardie nag se worsteling was Jakob nooit weer dieselfde nie. Hy het Israel geword: vors/stryder van God. Ons lees van geen enkele skelmstreek in sy verdere lewe nie.
Views: 8