Met ons eie ore het ons gehoor, o God, ons vaders het ons dit vertel, dat U in die ou dae, in die gryse verlede, ’n groot daad gedoen het. (vers 2)

Hierdie psalm verwoord die gewaarwording wat elke kind van God soms beleef. God is skynbaar afwesig, oënskynlik aan die slaap (vers 24) in ’n tyd wat ons Hom baie nodig het. Verhale en herinneringe uit die verlede, uit ’n tyd toe God wel gehelp het, hou ’n mens in ’n krisistyd staande, want jy weet: God kan nou óók uitkoms gee.

Dit is helaas so dat die geloofspad noodwendig ook ’n lydenspad is. Dit feit dat jy naby God leef, maak nie dat jy nie ook lyding beleef nie. Die Here Jesus het ons daaraan herinner toe Hy gesê het as ons Hom wil volg, moet ons onsself verloën en ons kruis opneem (Luk 9:23).

’n Geskiedenis van verlossing beteken nie dat jy nooit sal swaarkry nie. Maar dit beteken wel dat jy weet waarheen om te vlug wanneer dit gebeur. Dit is wat hierdie klaaglied ons leer. Dit sê vir jou in jou vertwyfeling en nood: Jy het ’n geskiedenis met God. Daarom kan jy vandag jou nood by God bekla en om uitkoms bid.

image_pdfimage_print

Views: 14

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.