Red my deur u mag, o God, laat aan my reg geskied deur u krag. (vers 3)

Volgens die opskrif kom hierdie psalm uit die tyd toe Dawid vir koning Saul gevlug het en by die Siffiete gaan skuil het (1 Sam 23:19-28). Toe, soos dit vandag nog gebeur, was daar mense wat tog te gretig was om hom in die rug te steek.

Dawid se reaksie op dié verraad is om hom op die Here se sorg te trou te verlaat. Want, so weet hy, God help hom altyd (vers 6 en 9). Petrus eggo hierdie ingesteldheid van geloofsafhanklikheid in 1 Pet 5:7: “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.”

Ons voel dikwels ongemaklik met Dawid se uitsprake, soos ook in vers 7, dat die onheil sy teëstanders moet tref. Dit klink vir ons na wraakgedagtes, maar dit is nie. Dit gaan vir hom om die eer van God wat gehandhaaf moet word. Dáárom moet die goddeloses (vers 5) op hulle plek gesit word.

Vandag bid ons nie meer om vergelding nie. Jesus het ons immers geleer om ons vyande lief te hê en die ander wang te draai. Só handhaaf ons God se eer, want ons maak hulle vuurrooi van skaamte (Rom 12:20).

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.