Maar ek roep na God, na die Here wat my sal red. (vers 17)
Dalk het jy ook al soos die digter gevoel. Alles het net te veel geword en jy kan dit nie langer hanteer nie. Selfs jou beste vriend wat boonop ’n medegelowige is, laat jou in die steek (vers 13-15). Jy wil net wegkom van almal en alles en iewers in ’n hoekie gaan wegkruip, ver weg van alles, alleen, waar niemand jou kan seermaak of pla nie (vers 7-9). Dalk wens jy jy was dood.
Natuurlik is dit nie regtig ’n oplossing om te vlug of weg te kruip nie. Die digter besef dit ook. Daarom vlug hy liewer na God toe, wat hy weet God sal hom red (vers 17).
Dit weet ons vandag beter as die digter van hierdie psalm. Jesaja voorspel dit al in Jes 53:4: “Tog het Hy óns lyding op Hom geneem,” sê hy. Ja, dis die Here Jesus. Hy dra jou swaar, jou nood en ontreddering. Hy het dit immers belowe toe Hy ons in Matt 11:28 genooi het: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.”