Saul het opgemerk dat Dawid baie suksesvol was, en Saul was bang vir hom. (vers 15)
Jaloesie begin waar jy meer begaan is oor jou reputasie as oor jou plig of roeping. Dit beduiwel jou gesonde oordeel en stroop jou van innerlike vreugde en vrede.
Die tragedie van jaloesie is dat dit meestal iemand is wat self baie het, wat in hierdie strik trap. Saul was die koning. Hy was aansienlik van gestalte en stewig op sy troon. Maar hy gun dit nie vir Dawid dat die son oor hom ook skyn nie.
Dawid het nie probeer om Saul te onttroon nie, maar Saul kon dit nie sien nie. Hy het ook nie verstaan dat dit sy eie skuld is dat sy beeld onder die volk getaan het nie. Hy het hom al meer teruggetrek, en uit sy optrede in die geveg met Goliat is dit duidelik dat hy nie ’n inspirerende leier was nie. Maar in plaas daarvan om die fout by homself te soek, fokus hy op Dawid en word hy obsessief oor sy wraakplanne.
Paulus skryf in Gal 5:20-21 dat iemand wat hom skuldig maak aan jaloesie, nie die koninkryk van God sal beërwe nie. So laat ons hierteen waak. Dis ’n ernstige saak!
Views: 6