Hy sal wel nie na julle luister nie, maar dan sal Ek Egipte my mag laat ervaar: met groot reddingsdade sal Ek die stamme van my volk Israel uit Egipte bevry. (vers 4)

God se handelinge is dikwels vir ons vreemd en selfs onverstaanbaar. Ons moet ons ook nie verbeel ons kan dit wat God doen, beoordeel vanuit ons menslike perspektief nie. God se woorde aan Moses gee egter vir ons so ’n klein bietjie insig. Dis nie asof die teenkanting van die farao vir God ’n verrassing was nie. Trouens, dit was alles deel van God se plan. Hy wou daarmee sy grootheid bekend maak, sodat die Egiptenare én die Israeliete dit moes besef. Later sou Israel dikwels hieraan terugdink en die wonder van God se handelinge besing.

Dit is vir ons vreemd dat die Egiptiese towenaars ook (met die eerste plae in elk geval) soortgelyke dinge kon doen, hoewel hulle telkens die slegste daarvan afgekom het. Ons moet onthou dat die Bose óók mag het. Daarom dat die Bybel ons so ernstig waarsku om weg te bly van okkultiese dinge, want dis nie onskadelike speletjies nie. Lees gerus wat Moses later hieroor beveel het in Deut 18:9-13. ’n Program soos “Die Siener” op kykNET maak my uiters ongemaklik.

image_pdfimage_print

Views: 6

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.