Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg. (vers 14)
’n Mens kan jou nogal verbaas oor hoe maklik mense die geloofsoog van God af wegdraai en hulle blindstaar teen die werklikhede om hulle. Dis wat hier gebeur. God het die Israeliete bevry, maar hulle kyk nie na die wolkkolom nie, hulle kyk na die farao se groot leërmag wat hulle teen die see vaskeer. Vergete is die tien groot wonders waarmee God hulle uit die farao se greep geruk het.
Hoor wat sê hulle vir Moses toe hulle die Egiptenare sien (vers 11): “Wat het jy ons aangedoen dat jy ons uit Egipte laat trek het?” Hulle kyk God heeltemal mis en sê alles is Moses se werk. Daarmee sê hulle eintlik presies dieselfde ding as die heidense Egiptenare, wat ook nie God se hand raakgesien het in wat hier gebeur nie (vers 5): “Wat het ons aangevang dat ons die Israeliete laat trek het!”
In skrille kontras is Moses se woorde (vers 13): “Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red.”
Geloof is om in goeie én in moeilike tye steeds op God te fokus en op Hom te vertrou. Hy bly getrou, ook aan jou.