“Is die Here by ons of nie?” (vers 7)
Op ’n manier het ons almal seker al dié vraag gevra. Jy vra dit natuurlik nie as dit met jou goed gaan nie. Dan is dit maklik om in God se sorg en teenwoordigheid in jou lewe te glo. Maar as die probleme opduik, dán begin jy hierdie soort vraag vra: Is die Here by ons of nie?
Ons moet die krisis waarin die Israeliete hulle bevind het, nie ontken nie. Hulle wás dors. Die skrywer erken dit self: Daar was geen water vir die volk om te drink nie, sê hy in vers 1.
Moses se reaksie is merkwaardig. Onthou, dit het nie gegaan oor luukshede nie. Dit het gegaan oor oorlewing. Tog sê hy vir hulle in vers 2: “Waarom stel julle die geduld van die Here op die proef?”
Daar ís tye dat ons troos nodig het. Maar daar is ook tye wanneer ’n mens eenvoudig die stang moet vasbyt en ophou sê: “Ag, arme ek.” God se sorg is nie altyd ’n oase in die woestyn nie. Sy sorg loop soms deur ’n droë land, en laat jou smag. Dis nie omdat Hy weg is of nie omgee nie, maar omdat Hy met ons op pad is.