Jabes het die God van Israel aangeroep met die woorde: “Stort u seën oor my uit, vergroot my grondgebied, neem my onder u beskerming en weerhou onheil van my sodat geen smart my tref nie.” (1 Kron 4:10)
Jy het waarskynlik al van Jabes se gebed gehoor. Bruce Wilkinson se boekie hieroor was ’n topverkoper. Daarin maak hy van Jabes se gebed ’n soort mantra, ’n formule waarmee jy God se seën kan verseker. Baie gelowiges het na aanleiding hiervan begin om daagliks Jabes se gebed te bid, in die verwagting dat God hulle sal seën.
Ek dink nie ons behoort Jabes se gebed só te misbruik nie. Dan eerder die Ons Vader, waarin die Here Jesus ons leer om te bid vir ons daaglikse brood (God se voorsiening vir ons tydelike behoeftes).
Ons moet Jabes se gebed in konteks verstaan. “Jabes” beteken “smart”, verwysende na sy traumatiese geboorte (1 Kron 4:9). Sy ma het hom met dié naam opgesaal, maar Jabes het geweier om onder die oordeel van só ’n naam te leef, en hom tot God gewend.
So word Jabes simbool van iemand wat eerder op God vertrou as om deur ’n slegte naam beheers te word. En God het hom gehoor!