maak wat ek jou voorskryf jou eie, dat jy kan lewe, maak wat ek jou leer jou eie, so eie soos die appel van jou oog. (vers 2)
Liewe Jemen
Ek is bly dat die verdrag met Etiopië toe deur die mat geval het. Nadat ek laas vir jou geskryf het, het ek ook gehoor dat Omar agter die verdrag gesit het, sodat hy ’n verskoning kon hê om Egipte se hulp in te roep om jou man te onttroon. Maar voor ek julle kon waarsku, het ek jou briefie gekry waarin jy laat weet het dat Abimeleg teen die verdrag besluit het. Die Here het julle reg gelei!
Miskien is dit nou ’n goeie tyd om aan Hom die dank te bring vir sy hulp. Ons is mos maar so: gou om hulp te vra as ons in die nood is, maar so traag om dankie te sê as God uitkoms bring.
Oor wat ’n gepaste wyse sal wees om die Here te dank, moet julle self besluit. Maar ek wil jou graag van ’n insident uit my pa se lewe vertel. Dis nou ’n lang storie, en ek sal die hele verhaal vertel as ek later vanjaar (as die Here wil) by julle uitkom. In elk geval, Pa moes ’n dankoffer op ene Arauna se dorsvloer (waar die tempel vandag staan) bring. Arauna wou toe sy trekdiere en dorsslee vir Pa present gee sodat hy dit kon gebruik om aan die Here te offer. Pa het daarop aangedring om die diere en die slee en die dorsvloer teen die volle prys by hom te koop voordat hy offer. Hy het gesê hy bring nie aan die Here offers wat hom niks kos nie.
Ons kan natuurlik nie die Here se guns met ons offers koop nie. Maar op een of ander manier antwoord Hy ons offers tog met seëninge.
Salomo ben Dawid
Views: 35