Majesteit en luister straal van Hom uit, krag en glans vul sy heiligdom. (vers 6)
Dit is nodig dat ons gereeld herinner word aan wie God is. Enersyds omdat ons ons nie goed kan indink in sy majesteit en luister nie. Andersyds omdat ons gewoond word aan die wonder daarvan om kind van God te mag wees. Daarom leef ons ongelukkig dikwels ongeroer en aanvaar ons sy God-wees sonder om te veel daaroor te dink.
Psalm 96 het my opnuut getref deur die oorstelpende verwondering van die digter oor God se grootheid. Die 2020-vertaling van vers 9a doen dit goed: “Buig in aanbidding voor die Here in sy glansryke heiligheid!” Sy glansryke heiligheid is wat mense soos dooies voor Hom laat neerval. Dink maar aan Jesaja (Jes 6:5), of Johannes (Op 1:17), of Paulus (Hand 9:4).
Ons aanbid ’n wonderlike, heerlike, grootse, heilige God. Dit maak my ongelooflik dankbaar en opgewonde dat ek Hom mag ken. En dit laat my klein voel voor sy majesteit en luister.
Dalk wil jy ook nou in heilige eerbied tyd maak om voor Hom te buig en sy glansryke heiligheid, sy “lieflikhede” (Ps 27:4, 2020-vertaling) te bedink?
Views: 12