Wie ag gee op die woorde van die Here, sal voorspoed geniet; wie op die Here vertrou, met hom gaan dit goed. (vers 20)
My liewe Jemen
Ek kan dit amper nie glo dat Adoniram al ’n volle vyftien jaar oud is nie! Toe ek laas by julle gekuier het, was hy nog so seunskind, en nou is hy ’n jongman! En ’n belowende jongman daarby. Baie geluk. Ek dink jy en Abimeleg het eer van julle opvoedingstaak.
Nie dat dié taak nou verby is nie; elke fase van jou kind se lewe het vir jou as ouer sy eie uitdagings, en ’n mens se kommer oor jou kroos word algaande meer, nie minder nie. Want as hulle eers groot is, dink hulle jy is oud en weet niks. Soos my liewe Rehabeam. Hy jaag altyd so woes met sy strydwa deur die veld. Ek het hom al wie-weet-hoeveel kere daaroor vermaan en gesê hy moet op die pad bly, maar hy weet mos van beter. Toe is hy en ’n vriendin gister weer met die wa stad uit. Laat gistermiddag eers het die vriendin hom hier aangebring, die ene bloed. Sy linkerarm is ook gebreek, sê die dokter. Sy vriendin vertel dat hy haar afgelaai het en toe vir haar gewys het hoe vinnig hy deur die veld kan jaag. Toe hy by haar verbyjaag, het hy na haar gekyk en gewaai, en toe vang die strydwa se wiel ’n groot klip. Ek is net dankbaar by lewe nog.
Maar so gaan dit met die lewe ook as jy rondkyk en nie jou oë op die pad hou nie. Het Eva tog maar destyds gekyk na die goed waarna sy moes kyk! Maar nee, sy kyk toe na die verbode boom se vrugte, en net daar het ons moeilikheid begin.
Leer tog vir Adoniram om voor hom te kyk en die reguit pad te kies.
Jou vriend Salomo
Views: 6