Ek onderrig juis vir jóú vandag sodat jy op die Here kan vertrou. (vers 19)
My liewe Jemen
Ek is werklik bly dat jy die verhouding met prins Ismael verbreek het voor dit te laat is.
Jy vra hoe dit kon gebeur het dat jy, van alle mense, in so ’n slaggat kon trap. Nou maan ek myself om nie te maklike oplossings vir ’n baie teer saak te gee nie, en jy moet my asseblief vergewe as ek dit mis het.
Miskien moet jy ’n slag vir jouself afvra of jy en Abimeleg nog genoeg moeite doen met julle verhouding. Het julle nie mekaar as vanselfsprekend begin aanvaar en daarom opgehou om te werk aan julle huwelik nie? Of dalk het julle lanklaas iets interessants saam gedoen, en het julle verhouding vervelig geword. Of dalk was julle só besig om weer op die been te kom na julle terugslag, dat julle nie genoeg tyd vir mekaar gemaak het nie.
Hoe dit ook al sy, Satan staan die hele tyd gereed om dit wat mooi en kosbaar is, te verwoes. Jy kan maar aanvaar dat hy enige geleentheid wat mag voorkom, sal aangryp om ’n wig tussen jou en Abimeleg in te dryf. Daarom is dit belangrik dat jy en Abimeleg saam sal bly bou aan julle verhouding. Konsentreer op dit wat jou tot hom aangetrokke gemaak het, en doen weer die dinge wat jy so goed weet hy van hou.
Sterkte met jou huwelik. Ek weet julle sal slaag, en ek weet dat die Here julle sal help. Het Hy dan nie self die huwelik ingestel in Eden nie?
Jou vriend Salomo
Views: 4