Maar toe die boere hom sien, het hulle onder mekaar geredeneer: ‘Dit is die erfgenaam dié. Kom ons slaan hom dood, dan is die erfenis ons s’n.’ (vers 14)
Jesus se gelykenisse teken heel dikwels ’n prentjie wat nie mooi inpas in ons manier van dink nie. Watter grondeienaar sal sy werksmense se lewens in gevaar stel om die verskuldigde huur in te vorder? Is die inkomste ’n werker se lewe werd? En uiteindelik stuur hy sy geliefde (dws sy enigste) seun!
Geen regdenkende mens sal dié opsie kies nie (soos die hoorders in vers 16 bevestig). En tog gebeur dit in die gelykenis. In God se wêreld werk dinge anders, want God is anders. Hy het inderdaad sy enigste, geliefde Seun gestuur, nie om verskuldigde opbrengs van ons, mense, in te vorder nie, maar om ons die kans te gee om tot inkeer te kom (vers 13).
Verstommend. Waar ’n aardse grondeienaar lankal met geweld teen die huurders sou optree, gee God nog kanse. Sy genade is onbegryplik.
Die huurders in die gelykenis se optrede is net so onbegryplik. Geen regdenkende mens sal die Seun van die hemelse Eienaar só behandel nie? Tog sekerlik nie?
Ja, tog. En dit gebeur vandag steeds.