Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” (vers 8-9)
In hierdie wêreld is krag en mag alles – die fisieke krag van atlete, die finansiële krag van maatskappye en rykes, die politieke mag van partye … Maar Paulus het geleer om anders te dink oor dié saak: swakheid kan ’n mens sterk maak, en daarom roem hy in sy swakhede (vers 9).
Ons weet ongelukkig nie wat die doring in sy vlees (vers 7) was nie. Wat ons wel weet, is dat God dit in diens geneem het om Paulus ’n bruikbare werktuig vir Hom te maak, want sy swakheid het hom gedwing om nie op homself nie, maar op God staat te maak.
Dit is hoekom dit dikwels die swakkes van hierdie wêreld is, eerder as die blinkes en die sterkes, wat deernis met ander het.
As jy swak is, bid dat God jou swakheid sal gebruik in die lewe van ander. En as jy een van die blinkes is, vlug na God, want ook jý het Hom daagliks nodig.
Views: 33