Maar wanneer die Here alles wat Hy op Sionsberg en in Jerusalem wil doen, afgehandel het, sal Hy die koning van Assirië straf oor sy trots en selfversekerdheid … (vers 12)
Twee goed val my op in hierdie gedeelte. Die een is dat God ’n groot weersin in hooghartigheid het. Dit was die koning van Assirië se ondergang: hy het ’n groot kop gekry (vers 13). Daarom die herhaalde oproep in die Bybel om beskeie te wees en nie meer van jouself te dink as wat jy behoort nie (Spr 3:34, Rom 12:3).
Dit geld vir alle mense, gelowiges én nie-gelowiges. Ook vir die koning van Assirië.
Dit bring my by die tweede opvallende ding, en dit is dat God se onderhouding van die wêreld nie net sy kinders raak nie. Dit raak almal. Hy laat sy son opkom oor goeies én slegtes, leer die Here Jesus (Matt 5:45). Sy regering strek oor alles en almal (Ps 103:19). Uiteindelik oordeel Hy ook oor almal, soos Hy oor die koning van Assirië geoordeel het. Daarom is die klag van talle gelowiges oor die eeue heen dat die goddeloses straffeloos aangaan met kwaad doen (Mal 3:13-15), geheel en al ongeldig. God slaap nie!
Views: 62