“Kyk, hier is my Dienskneg wat Ek ondersteun, my Uitverkorene in wie my binneste vreugde vind. Ek het my Gees op Hom laat kom; Hy sal reg vir die nasies laat deurbreek. (vers 1, 2020-vertaling)
Hier het ons een van die vier liedere waarin ons die dienaar van die Here leer ken (sien Jes 49:1-7; 50:4-11; 52:13 – 53:12). Die dienaar is die volk Israel, maar tegelykertyd ook Iemand anders, Iemand wat instaan vir wat Israel as dienaar van die Here nie wil en nie kan doen nie (kyk bv. by Jes 52:13 – 53:12). In hierdie lied (vers 6) sê die Here vir sy Dienaar: “Ek maak Jou my verbond met my volk, my lig vir die nasies.”
Hierdie Dienaar van die Here maak die wil van die Here bekend en bring nie alleen vir Israel lig nie, maar ook vir die ander nasies.
In Matteus 12:17-21 word hierdie gedeelte op Christus toegepas. Hy is die Dienaar van die Here wat kom doen het wat die volk Israel – en ek en jy – nie reggekry het nie. Christus voer vir ons en namens ons God se opdrag op aarde uit. Net in innige verbondenheid met Hom kan ons ons roeping as gelowiges, as God se verteenwoordigers op aarde, uitvoer.