Hulle het hulle Majesteit verruil vir die afbeelding van ’n bees wat gras eet! (vers 20, 2020 vertaling)
Psalm 106 is net soos Psalm 105 ’n geskiedenispsalm, waar die digter terugkyk na die pad wat die volk Israel gekom het. Waar Ps 105 fokus op God se trou in die verlede, beskryf Ps 106 egter Israel se ontrou. Israel het God telkens verlaat en vergeet. Dit laat die digter sy hande in die lug gooi, want dit maak nie sin nie. God was vir hulle goed en het hulle telkens gered en verlos en geseën, maar hulle draai die rug op hom. Verstommend. Die lewende, luisterryke, getroue en versorgende God – hoe kan ’n mens dit selfs oorweeg om Hom te verruil vir ’n afbeelding wat mensgemaak is (vers 20)?
Die psalm daag ons uit om ons verlede te herbesoek, en die sondes van die vaders in die oë te kyk en by die naam te noem. Dit sal ons as volk baie meer beskeie maak in ons lewe voor God. Maar dit daag ons ook uit om na ons eie dade en besluite te kyk, sodat ons kan besef dat ons God se genade geensins verdien nie, en tog oorvloedig ontvang. Lofwaardig is die Here! (vers 48)