Niemand het u spoor gesien nie. (vers 20)
Asaf begin sy gebed met ’n klag. God is skynbaar afwesig. Hy soek en roep, maar kry nie antwoord nie (vers 2-3). In sy worsteling om te verstaan, besef hy uiteindelik dat hy op die verkeerde plekke gefokus het en kitsantwoorde verwag het.
Inderwaarheid is God se teenwoordigheid oral te vind, maar hy het dit misgekyk. Hy vertel hoe God in die wêreld aktief teenwoordig is, en tog merk hy half verbaas op in vers 20: “Niemand het u spoor gesien nie.” Die 2020-vertaling vertaal: “… u spore was onherkenbaar.”
Geloof is juis om God se spoor te sien waar ander dit mis.
Waar is God as jy Hom nodig het? Asaf sê: Hy is by jou. Hy was nog altyd, en Hy sal ook steeds by jou wees. Maar sy spoor is nie altyd so sigbaar soos ons dit graag wil hê nie. Dit was in die Bybelse tye al so, en dis vandag steeds so. Dis eers as jy wegkyk van jouself en op God fokus, oor Hóm nadink, dat jy sy spore begin herken in die wêreld en in jou eie lewe; dat jy sy teenwoordigheid en liefde en sorg en beskerming begin raaksien.