Toe het al die inwoners van die gebied van die Geraseners vir Jesus gevra om van hulle af weg te gaan omdat hulle baie bang was. Hy het toe in die skuit geklim en teruggegaan. (vers 37)
Ná die genesing vra die mense Jesus om weg te gaan omdat hulle vir Hom bang was. En dan klim Jesus in die skuit en gaan sonder om teë te stribbel!
Jesus dring Hom nie aan mense op nie. As jy Hom uit jou lewe wegdryf, loop Hy. Jesus respekteer mense, selfs al beteken dit dat Hy uit hulle lewens moet padgee.
Dis vir my ontstellend. Ons ken almal mense wat iewers langs die pad die rug op God gedraai het en dan sê as God regtig bestaan, sal Hy iets doen om hulle te laat glo. Maar God werk nie gewoonlik so, met bonatuurlike verskynings nie.
Dit beteken nie dat Hy mense wat Hom wegjaag, uitlos nie. Daarom laat Jesus die man wat bevry is, nie toe om by Hom te bly soos hy wou nie, maar stuur Hy hom terug na sy mense om te gaan vertel wat God vir hom gedoen het (vers 39).
God werk deur ons. Deur óns versprei Hy die kennis van Christus oral (2 Kor 2:14).
Views: 11