Hy het geantwoord: “Daardie horings het die mense van Juda verstrooi en verneder. Die ambagsmanne het gekom om die regeerders van die nasies, die horings wat vir Juda met soveel geweld verstrooi het, die skrik op die lyf te ja en hulle tot ’n val te bring.” (vers 21)
Sagaria se drome is nogal erg vreemd. Wat wil die tweede gesig sê?
Dit wil sê: God oordeel nie net nie. Hy verlos ook. God bring uitkoms en voorsien in nood. Waar dinge te veel word vir mense om te verduur, verander Hy dit ten goede. Sagaria sien die vier horings (die magte wat Juda en Jerusalem verstrooi het) baie goed; hy staar hom byna blind daarteen. Daarom moes die Here hom die vier ambagsmanne laat sien. Hulle kom om die mag van die vyand te breek.
Mense sien maklik die moeilikheid raak; die uitkoms wat die Here bring, is dikwels nie so opsigtelik nie. Jy moet fyn kyk om dit raak te sien. Daarvoor het jy begrip en fyn aanvoeling nodig (Fil 1:9-10). Ook waar dit vir ons lyk asof die Here nie teenwoordig is nie, is Hy besig met sy bestuur van die wêreld – al is dit op ’n manier wat ons nie verstaan nie.