Seestrome het hulle verhef, Here, seestrome het hulle stem verhef, seestrome verhef hulle golfslag. Magtiger as die gedreun van baie waters, as die branders van die see, is die Here, magtig in die hoogte. (vers 3-4, 2020-vertaling)

Toe hierdie psalm geskryf is, het die omringende nasies geglo die chaosmagte van die see moes tydens die skepping eers getem word, want dit was in opstand. Israel het anders geglo. God is nie die temmer van die chaos nie, maar die skepper van hemel en aarde. Hy is Koning, magtig, en die aarde staan onwankelbaar vas (vers 1), net soos God se heerskappy (vers 2) en sy wil en heiligheid (vers 5).
Al staan ons dikwels weerloos voor die krag van die natuur, en al probeer bose mense hoe hard om die orde van God se skepping in chaos te laat verval, sal Hy wat Koning was van altyd af, bly heers tot in ewigheid. Toe Jesus baie jare later vir die wind en die see sê: Hou op! Bedaar! (Mark 4:39), het iets van hierdie Goddelike majesteit sigbaar geword. Dit is vroeër besing, maar in Jesus het dit sigbaar geword.
Daarom, skep moed wanneer die golwe van die lewe aanrol. Ons Here is Koning (vers 1)!

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.