Toe ek gedink het my voete gly, het u troue liefde my regop gehou, Here. Toe ek met baie onrus in my binneste sit, het u vertroosting my tot rus gebring. (vers 18-19)

Die oumense het ’n sê-ding gehad: “God slaap nie,” het hulle gesê wanneer dit lyk of iemand met die gruwelikste onreg wegkom. Dit is wat die digter ook wil sê. Die tyd van afrekening kom sekerlik, al lyk dit of die goddelose met moord wegkom (vers 13b en 15). Die digter pleit by God dat dit tog sal gebeur (vers 1-3).
In ons eie dag sug ons ook oor die onreg, korrupsie, bedrog en anargie wat ons land op sy knieë het. Hierdie psalm verwoord daarom ons eie versugtinge voor God.
Wat die digter óók doen, is om te midde van die onreg onwrikbaar aan God vas te klou. God beskerm hom (vers 22). Dinge sál verander (vers 14-15).
Hy bely ook dat dit die Here is wat hom in sy donkerste uur regop gehou het en vertroos het (vers 18-19). Ook hierin mag ons hom dit na-sê. Jesus het mos belowe dat Hy by ons is tot die voleinding van die wêreld (Matt 28:20).

image_pdfimage_print

Views: 27

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.