Prys die Here ons God, buig voor Hom op sy heilige berg, want die Here ons God is heilig. (vers 9)
Voorop in die gedagtes van die digter is die feit dat die Here heilig is. Daarom word God se mense opgeroep om Hom te prys (vers 3, 5 en 9).
“Heilig” is ’n woord wat ons dikwels gebruik sonder om die implikasies heeltemal te begryp. Dit word eerstens met God geassosieer, soos in hierdie psalm. Sy heiligheid hou in dat Hy onvergelyklik is, en anders as mense optree. Hy is onpeilbaar vir ons verstand. En tog, hierdie ongenaakbare, heilige God maak bemoeienis met Israel en word “die Heilige van Israel” genoem.
Sy heiligheid eis eerbied en ontsag, en selfs swye voor Hom (Hab 2:20). Op sy volk rus die verpligting om heilig te lewe (Lev 11:44), dit wil sê rein en anders as die wêreld. Wanneer sy mense heilig genoem word, beteken dit nie dat hulle hipervroom is nie, maar dat hulle in God se diens staan, afgesonder vir Hom. Daarom noem Paulus mense wat aan God behoort, die heiliges (o.a. 2 Kor 1:1, Fil 1:1).
Dis van ons ook waar. Ons dien ’n heilige God, en daarom moet ons ook heilig lewe.