Simson het vir hulle gesê: “As dít is wat julle doen, sal ek nie ophou voordat ek my op julle gewreek het nie.” (vers 7)
Simson bly ’n enigma. Hy het alles in sy guns gehad. Die besondere seëninge van die Here het op hom gerus. Hy was onverskrokke en onaantasbaar. Hy kon met sy geweldige krag doen wat hy wil. Dink net wat hy kon vermag as hy dié gawes in diens van die Here en die volk van die Here gebruik het!
Ons lees ongelukkig nie enige iets wat hy vir die Here of vir Israel gedoen het nie, want Simson was op homself ingestel. Hy het gemaak en gebreek soos hy wou, en sy dade is gemotiveer deur persoonlike wraaklus. Mense wat hom verkeerd opgevryf het, moes boet. Eers dertig Filistyne by Askelon, toe ’n groot slagting by Timna, en later dood hy ’n duisend Filistyne met ’n eselskakebeen.
Simson se ingesteldheid het slegs korttermyn-voordele ingehou. ’n Klomp dooies hier en daar. Hy kon egter nooit die Filistynse oorheersing beëindig nie. Dis wat selfgesentreerdheid doen.
Wat is die groot dryfveer in jóú lewe? Om mense terug te kry vir wat hulle jou aangedoen het? Of om God te verheerlik met die gawes wat Hy oor jou uitstort?