Selfs sy broers het nie in Hom geglo nie. (vers 5)

Dis hartseer en ontstellend om hierdie woorde te lees. ’n Mens is lus om jou hande in die lug te gooi. Hoe aaklig moes die Seun van God se menswees nie wees nie! Selfs sy eie broers, hulle wat Hom tog behoort te geken het, glo nie in Hom nie en is sarkasties met Hom omdat hulle nie verstaan wie Hy is nie, of waarmee Hy besig was nie.
Dit verklaar dalk hoekom Jesus nie een van hulle gekies het om sy dissipel te wees nie. Hulle het hulle immers van Hom en sy roeping gedistansieer.
Tog het die Here Jesus nie opgegee op hulle nie. Iewers, waarskynlik ná sy opstanding, het Hy Homself aan hulle openbaar, of minstens aan sy halfbroer Jakobus (1 Kor 15:7). Jakobus het later die leier van die gemeente in Jerusalem geword, en ons het ook ’n brief van Judas, ’n ander broer van Hom, in die Bybel.
Ek neem twee waarhede hieruit saam. Die een is dat die Here Jesus nooit opgee op mense nie. En die ander is dat die begin nie so belangrik is nie; dis hoe jy eindig wat tel, soos Heb 3:14 onderstreep.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.