As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. (vers 23)
Jesus beloof hier op verskillende maniere dat Hy, die Vader én die Gees by ons en in ons is. Dat die drie-enige God deel van ons lewe is en wil wees.
Ongelukkig beleef ons dit nie altyd so nie. Daar is mense wat God daarvan beskuldig dat Hy afwesig is in hulle lewe. Wat kan ons doen om ’n beter gewaarwording van God se teenwoordigheid te hê?
Jesus se antwoord is heel eenvoudig: Ons moet sy woorde ter harte neem (vers 23).
Die probleem is dat ons te min van Jesus se woorde maak, te min Bybel lees, ons te min in sy Woord verdiep. Jesus sê die Gees wil ons onder andere herinner aan alles wat Hy gesê het (vers 26), maar as ons nie die Woord lees nie, waaraan kan die Gees ons dan herinner?
Jy moenie verwag dat jy God se teenwoordigheid in jou lewe sal ervaar as jy los van die Bybel leef nie. As jy God se teenwoordigheid en sy openbaring soek, lees jou Bybel en oordink dit; neem dit ter harte en leef dit.
Views: 28