Mikal het Dawid toe deur die venster laat afsak. Hy het weggegaan, gevlug en ontsnap. (vers 12)
Daar is mense wat glo dat jy die soort lewe kry wat jy verdien. Leef jy goed, kry jy seëninge. Leef jy sleg, tref die teenspoed jou.
Hierdie hoofstuk is ’n keerpunt in Dawid se lewe. Hy moes vlug, anders sou Saul hom doodgemaak het. Niks sou hierná weer dieselfde wees nie. Dawid en Mikal se huwelik was vir alle praktiese doeleindes verby, want hy kon nie na haar terugkeer nie, en Saul het haar met ’n ander man laat trou.
Dit gebeur ondanks die feit dat Dawid sy beste vir Saul gee. ’n Mens kan nie uit wat met jou gebeur, aflei dat die Here met jou tevrede is, of ontevrede is nie.
Dawid word onskuldig uit die land gejaag, maar hy verdwyn nie van die radar nie, want God is by hom (Ps 23:4). Eers gebruik Hy Saul se eie kinders, Jonatan en Mikal, om Dawid te red, en later sy getroue profeet Samuel.
God waarborg nie ’n rustige lewe vir sy kinders nie, maar Hy waarborg sy teenwoordigheid. Daarom kan ons tot rus kom in Hom.
Views: 5