Hy het Homself vir ons as offer gegee om ons van alle ongeregtigheid vry te maak en ons van sonde te reinig, sodat ons sy eie volk kan wees wat ywerig is om die goeie te doen. (vers 14)
Uit die vorige hoofstuk kan dit dalk lyk asof Paulus al die onus op die ouderlinge lê, want hy gee daar talle voorskrifte vir hoe ’n ouderling moet wees. Dit gaan egter nie net oor die leiers van die gemeente nie, hoewel hulle natuurlik ’n onontbeerlike rol in die gemeente speel. In hierdie hoofstuk maak Paulus dit duidelik dat die karakter van die gemeente van elke enkele lid van die gemeente afhang – ouer mans (vers 2), ouer vroue (vers 3, jonger vrouens (vers 4), jonger mans (vers 6), slawe (vers 9) en, les bes, Titus self (vers 7).
Die samelewing kan net positief beïnvloed word as elke lidmaat “ywerig is om die goeie te doen” (vers 14). God se genade verlos ons immers, sodat ons met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenswoordige wêreld kan lewe (vers 11,12).
Paulus se strategie in ’n korrupte en verworde samelewing is dat Christene deur hulle lewe duidelik maak dat hulle God dien en vir die samelewing ’n aanwins is. Is dit van ons waar?
Views: 23