So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood. (vers 17)
Jakobus draai nie doekies om nie: geloof wat net by vroom belydenisse bly, is geen geloof nie. Dis net praatjies, en so ’n geloof beteken niks. En tog bely ons: sola gratia, sola fide, solus Christus – genade alleen, geloof alleen, Christus alleen. Niks van dade nie?!
Maar dis hoe Jesus die wet verduidelik het. In die gelykenis van die barmhartige Samaritaan (Luk 10:30ev) vertel Hy dat om jou naaste lief te hê, presies dit beteken: om iets goeds aan ander te doen. In die Bergrede, die grondwet van die kerk (Matteus 5-7), sê Jesus dit ook: gelowiges leef anders en doen anders.
Dís die punt: om in God te glo, is baie meer as net ’n klompie regte woorde. Dis ’n lewe wat verander het, ’n lewe wat vir die mense om jou iets werd is. Dit vra ’n leefstyl soos Jesus s’n. Dit vra ’n lewe wat ’n verskil maak; wat nie by mense in nood verbystap nie, wat nie tuis ’n verskrikking vir jou gesin is nie, wat by die werk maak dat jy jou kollegas help …
Geloof sien ander raak, soos Jesus.
Views: 32