Maar Serubbabel en Jesua en die ander familiehoofde van Israel het vir hulle gesê: “Julle bou nie saam met ons aan die tempel van ons God nie. Ons alleen sal vir die Here die God van Israel bou.” (vers 3)
Dit was net hier waar die vyandskap tussen Jode en Samaritane begin het. Die Jode het die Samaritane se godsdiens as sinkretisties (’n vermenging van verskillende godsdienste) beskou, al beweer die Samaritane dat hulle dieselfde God dien (vers 2).
Die Jode se besluit het later vir hulle baie hoofbrekens besorg. Moes hulle nie liewer die mense toegelaat het om te help nie? Watter kwaad kon dit doen? Maar as jy só redeneer, verloor jy uit die oog dat ’n sinkretistiese godsdiens nie die ware God dien nie, maar ’n selfgemaakte afgod. Dit kon die Jode nie toelaat nie, en tereg ook. “Ons dien tog maar almal dieselfde God” is vandag nog net so ’n mistasting soos destyds.
Ons leef vandag in ’n totaal ander situasie. Tog is dit steeds waar dat die kerk sy boodskap as sout en lig vir die wêreld (Matt 5:13-16) en sy identiteit as kerk van die Here Jesus verloor as ons kompromieë met die wêreld aangaan. Nee, ons moet in liefde by die waarheid bly (Efes 4:15).
Views: 12