As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. (vers 9)
Die Jode het destyds geglo jy kan jou plek in die hemel verseker deur genoeg goeie dinge te doen (vers 3). Paulus trek ’n streep deur dié idee. Niks wat jy doen, kan jou in die hemel bring nie. Dit is wensdenkery om te dink jy kan God se hart sag maak deur jou vroom lewe.
Daar is net een manier, en dit is deur te glo dat Jesus Christus vir jou sondeskuld betaal het. Sy offerdood aan die kruis het al jou sondeskuld weggevee. “Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie” (vers 11).
Dis nie so dat jou lewe op die oordeelsdag soos ’n rolprent voor jou sal afspeel nie. Want ons oordeel hét al gekom: op Golgota. Daar het ons almal se skuld op Jesus afgekom. Dít is wat ons moet bely: dat ons Jesus nodig het. Dít is wat ons moet glo: dat sy dood ons sondeskuld betaal het; dat Hy Satan en sonde oorwin het aan die kruis, en daarom kon opstaan uit die dood as die groot Oorwinnaar.
Glo jy dit?
Views: 30