God wat die opregtes help, is my beskermer. God is ’n betroubare regter … (vers 11-12a)
Dawid soek by God beskerming oor wat Kus, ’n Benjaminiet, hom aandoen (vers 1). Ons weet nie waarna Dawid hier verwys nie, maar dit is so dat die Benjaminiete nie ooghare vir Dawid gehad het nie. Koning Saul was immers ’n Benjaminiet, en lojales aan Saul het geoordeel dat Dawid die koningskap by die huis van Saul gesteel het. Daarom was die mense wat die ergste teen Dawid tekere gegaan het toe Absalom in opstand gekom het, Benjaminiete soos Simeï (2 Sam 16:5-14), en Seba (2 Sam 19:41-20:3).
In sy nood beroep hy hom op God, wat regspreek oor almal (vers 9). Hy getuig dat hyself onskuldig is (vers 4-5); daarom het hy vrymoedigheid om hom na God te wend. Daarmee sê hy nie dat hy sondeloos is nie, maar dat dit wat Kus teen hom doen, ongegrond is.
Dís ons voorreg as kinders van God – dat ons weet dat Hy vir ons in die bres tree. Hy is immers vir ons (Rom 8:31); Hý spreek ons vry op grond van Jesus se offer (Rom 8:33-34). Maak daarom soos Dawid, en werp jou saak op God. Hy sál aan jou laat reg geskied (vers 18).
Hits: 10