Wie u Naam ken, kan op U vertrou, want U laat hulle wat U soek nie in die steek nie, Here. (vers 11, 2020-vertaling)
Psalm 9 is ’n interessante vermenging van ’n loflied en ’n klaaglied wat die digter (Dawid?) afwisselend inspan. Hy jubel oor die Here se magtige reddingsdade (vers 2-3) en waarsku die goddeloses en heidennasies dat daar vir hulle geen toekoms is nie (vers 6-7). Net as jy dink sy hart is vol blydskap oor die troue liefde van die Here (vers 8-13), pleit hy by God om uitkoms (vers 14).
Dit is duidelik dat die digter nie nét God se goedheid beleef nie. Sy lewe word gekenmerk deur voorspoed én teenspoed. Die meeste van ons kan ons daarom met hom vereenselwig; aan die een kant is ons dankbaar omdat God sorg, maar aan die ander kant is daar ook baie wat ons hinder en selfs ontstel. Tog is die grondtoon van dié psalm nie een van terneergedruktheid of swaarmoedigheid oor dít wat ander hom aandoen (vers 14) nie. Inteendeel, die digter sing tot eer van die Here (vers 12) soos Paulus en Silas in die tronk in Filippi (Hand 16:25).
Dit is die uitdaging vir ons: om eerder God vir raak te sien as die kwaad.
Views: 9