Maar Nabot het vir Agab geantwoord: “Mag die Here my daarvan bewaar dat ek die erfgrond van my voorouers ooit aan u sou afstaan!” (vers 3)
’n Mens kan jou nogal verwonder dat Nabot weier om ’n stuk grond aan die koning te verkoop. Hy moes sekerlik die gevolge van sy weiering besef het.’n Mens se grond is tog nie jou lewe werd nie! Maar Nabot het nie só oor die saak gedink nie, want sy grond was nie syne om weg te gee of te verkoop nie. Dit was erfgrond, en daarom was dit die Here s’n. Hy het dit maar net vir die Here bestuur. In Levitikus 25:23 het God dit uitdruklik verbied dat ’n Israeliet sy erfgrond mag verkoop.
Nabot was nie sommer net ’n koppige ou man wat Agab nie sy sin wou gee nie. Hy was ’n gelowige, en sy weiering spruit uit sy opregte en diepe eerbied vir God en sy gebod.
Hierdie verhaal vra van ons: wat maak jy met dít wat God aan jou gegee het? Is jy ’n goeie rentmeester van God se seëninge? Gebruik jy dit tot God se eer? Nabot sal sê: Dit is nie joune om daarmee te maak wat jy wil nie.
Views: 21