Elisa het geantwoord: “Mag daar tog ’n dubbele deel van u gees op my kom!” (vers 9b)
Die hele hoofstuk handel oor die opvolging van die groot profeet Elia. In 1 Kon 19:16-21 het ons gelees dat die Here Elia beveel het om Elisa tot profeet te salf, en dat Elisa van toe af Elia se leerling was. Die tyd het egter nou gekom dat die leerling by sy leermeester moes oorneem.
Elisa se wens is dat hy ’n dubbele deel van Elia se gees mag ontvang (vers 9). Daarmee verwys hy waarskynlik na die destydse gebruik dat die oudste seun as belangrikste erfgenaam en naamdraer van die familie ’n dubbele deel geërf het (vgl Deut 21:17). Elisa se groot begeerte is om ’n volwaardige opvolger van Elia te wees. Die feit dat hy die mantel van Elia (sy ampskleed) kry (vers 13) bevestig dit.
Die res van hoofstuk 2 vertel dat dit inderdaad gebeur het. Elisa doen ook wonderwerke. Hy maak baie seker dat mense nie moet dink dit is hy nie. Dis die Here wat die Jordaan kloof (vers 14), en die Here wat die water bruikbaar maak (vers21).
Jou prestasies in die lewe is ook God se werk deur jou. Gee Hom die eer daarvoor.