Om drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” Dit beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat? (vers 34)
Duisternis is ’n teken daarvan dat God sy liefde, sy genade, sy bystand aan die mens onttrek; dat God Homself aan die mens onttrek (Amos 8:9). En dít is wat op Golgota gebeur het. Jesus hang aan die kruis in die duisternis, onder die oordeel, die toorn en vloek van God. Die Vader gee pad, omdat die wêreld se sonde daar op Christus neergekom het, en dit vir God onuithoudbaar geword het. Want al jou en my sonde, al ons liefdeloosheid en leuenagtigheid en twis en selfsug en jaloesie en eiesinnigheid – al ons sondes het daar op Jesus afgekom, en Hy dra dit alleen, in die duisternis van God se oordeel, van God verlate, want die walging en stank van jou en my sonde het Hom weggedryf.
Daarom die duisternis: die Vader was weg. Jesus het alleen daar gehang. Die besondere liefdesband tussen God die Vader en God die Seun is daar afgesny.
Dít was die verskriklikheid van Christus se lyding: dat Hy dit alleen moes dra, in die duisternis van God se oordeel, afgesny van sy Vader se sorgende liefde, van God verlate. Vir jou.
Views: 16