As jy die gebooie van die Here jou God gehoorsaam en sy wil doen, sal Hy jou in stand hou as sy heilige volk soos Hy met ’n eed aan jou beloof het. (vers 9)
Ons weet goed dat dit nie so eenvoudig is dat as jy die Here dien, alles met jou goed sal gaan, en as jy Hom nié dien nie, ellende jou sal tref nie. Daarvoor is daar net te veel Godvresende mense wat swaarkry, en ook te veel goddeloses wat nie die einde van hulle voorspoed ken nie.
Die sg. voorspoedsteologie steun sterk op gedeeltes soos hierdie.
Hoe moet ons hieroor dink? Enersyds moet ons in hierdie hoofstuk Moses se dringende pleidooi hoor dat gehoorsaamheid aan God alles is, en dat God se seëninge rus op dié wat Hom dien. Ongehoorsaamheid en ontrou lei eventueel na die afgrond van verdoemenis. Dit het inderdaad so uitgespeel vir Israel, toe eers die noordelike stamme, en later ook Juda, in ballingskap weggevoer is.
Andersyds moet ons onthou dat ons nie God se seëninge nét in materiële voorspoed moet meet of verwag nie. God se seëninge is daar waar jy sy hand in jou lewe ervaar, selfs al gaan dit broekskeur (vgl Matt 5:3-12!).
Hits: 10