Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. (vers 28)
Net voordat jy moedeloos word omdat die navolging van Jesus nie ’n maklike pad is nie en ’n kruis impliseer (10:38), kom Jesus met hierdie onvergelyklike uitnodiging, en die belofte van rus.
Jesus kontrasteer dit wat Hy vra, met dit wat die Fariseërs eis. Hulle lê ’n onmoontlike juk op jou skouers, want die Torah (wet) soos húlle dit uitgelê het, het reëls op reëls en wette op wette beteken. Oral waar jy draai, loop jy jou vas in voorskrifte, in moets en moenies, en dis ’n ondraaglike las. G’n wonder nie dat mense sê hulle wil eers die lewe geniet voordat hulle hulle bekeer. DÃs die Fariseërs se pad.
Jesus vat ons nie na die Torah nie. Hy nooi ons na Homself. In navolging van Hom raak die las draaglik, want Hy buk saam met ons onder die juk in. Hy dra die las saam met ons, vir ons, en help ons om Hom te volg. Hoe langer jy in sý voetspore volg, hoe ligter word sy juk, want jy word opgevang in die dampkring van sy sorg. Hy is immers sagmoedig (vers 29). Hy verstaan.